episode5  episode4  episode1  episode2  episode3 



ZILE SE VAKANSIE (Episode 1)
Dit reën geweldig in die noorde van Botswana. Dit reën net soveel suid van noord en ook oos en wes daarvan maar dit is nie van veel belang vir Zile nie want hy is nie nou daar nie, hy is nou noord en dis die reën wat hier val wat die oorsaak is dat die lewe nie die liedjie is wat dit `n paar dae gelede was nie. Zile sit onder `n swanger worsboom en probeer `n liedjie sing om warm te kry maar stotter net `n paar vals note. Hy sit onder die drup van `n oorhangende tak, hy het al vantevore probeer wegskuif van die drup maar dit drup orals dus bly hy nou maar sit. Hy probeer "Oom Kosie sukkel in Afrika"sing, maar dit is so vals dat die reën dadelik harder val. Sy kakebene bewe en bibber so van die koue dat sy tande so woes klapper dat dit soos `n tikmasjien klink, wat aktief Die Stem tik, hy probeer op aandag staan maar hy kry net gebewe en hy is al dikgetik. Zile hou nou al drie jaar lank hier vakansie en in die drie jaar het hy nog nie soveel reën gesien nie, dit reën katte en honde. "Dit reën katte en honde", neurie hy eenkeer sag en tweekeer nog sagter". Na `n rukkie verkry weer volle beheer oor die werking van sy kakebene en lippe en dan val hy uit volle bors weg met: Mopanie-, mopanie-,mopaniewurms! Mopaniewurms in die oggend en mopaniewurms in die aand! Mopanie-, mopanie-, mopaniewurms! Mopaniewurms vanmôre en mopaniewurms vanaand! Mopanie-, mopanie-, mopaniewurms ! Mopaniewurms vanmiddag en mopaniewurms gisteraand! Die laaste noot was `n bietjies te hard want die volgende oomblik maak hy `n slapende hond wakker. Die hond is gewis wakker en baie groot ok, hy en Zile kan nie besluit wie die grootste geskrik het nie, hulle trek lootjies, die hond wen. Zile is 'n goeie verloorder en laat spaander, die hond agterna. Eers toe die hond byna al sy gatvelle afgeskeur het, het Zile die hond se tjank afgetrap voordat lg. stil-stil die aftog geblaas het. Zile het met leedwese die skade aan sy karos en deurtrekker betrag en net daar besluit dat hy dik is vir hierdie vakansie. "Ek is dik vir hierdie vakansie", sê hy vir homself. Hy voel dat hy `n ander vakansie nodig het om van hierdie vakansie te herstel. Daar is min dinge wat so uitputtend is as wanneer `n vakansie skeefloop, hierdie een is windskeef. Na drie jaar van uitrus kan mens ook net soveel vat en dan is jy gatvol, buitendien is sy sakgeld ook op en oorleef hy al vir `n maand lank van die mopaniewurms wat in die rivier versuip het. Die versuipte wurms laat sy maag woes werk en hy hou juis nie van werk nie. Die maagwerkery het veroorsaak dat hy kringvuur om sy bruinoog gekry het, dit is al erg opgehewe van al die afveëry. Hy het al byna met alles moontlik probeer afvee om die pynlike sensasie van afvee so draaglik as moontlik te maak. Wat tot onlangs nog goed gewerk was `n sagte haasvel wat hy by `n bysiende sot gesteel het maar `n vêrsiende vriend van laasgenoemde het die haasvel vergiftig. Zile het gevolglik `n heftige allergie tussen sy twee boude ontwikkel en nou sit hy alweer met sy vinger in sy dinges. Hy besluit om sy persoonlike higiëne op te knap deur hande en meer spesifiek sy middelvinger te gaan was en om dan `n goeie nagrus in te kry. Die reën gee `n oomblik skiet en die sonnetjie maak sy verskyning, Zile staan stram van die koue op om te gaan kyk hoe die son nou weer lyk. Voordat hy egter onder die boom uit is begin dit alweer reën. Hy kyk op in sien dat die son skyn en dat daar geen wolke is bokant hom nie, maar dit sous. "Dis die laaste strooi, môre-oggend is ek weg." Hy het nie geweet dit kan reën sonder wolke nie. Boon-op val `n wors uit die worsboom hom byna katswink. Hy sal die volgende oggend die terugtog aanpak. Hy wil huistoe, Bloem toe, Bloemfontein toe, hy wil soentoe. Hy dink aan die onderonsie met die hond en raak bewus van die feit dat hy nie veilig op die grond is nie, hy besluit dus opsluit om die aand oopbek in die mik van `n huilboerboonboom te slaap. Die aand reën dit selfs nog erger as die vorige paar dae. Zile droom dat hy versuip in die mik van `n huilboerboonboom. Hy is reg en hoes homself wakker. Dan verloor hy sy balans en val binne in die oorvol rivier wat kort tevore nog ver onder hom verby gevloei het. Hy verbeel hom hy versuip, maar hy is verkeerd, dit is nie sy verbeelding nie. Toe sy kop heelwat later bokant die water uitpop suig hy gevolglik heelwat vars lug in, hy het al vêr stroom-af gedryf. "Dit lyk my ek is oppad see toe", dink hy onfiks. Hy merk `n TV op wat saam met hom stroom-af spoel, dis nog aan en hy besluit om `n bietjie TV te kyk voordat hy versuip. Hy is net betyds vir die nuus en die weer. Hulle voorspel reën vir die gebied. " Hulle is reg" dink hy met leedwese. Hy begin kant toe plas want hy kan nie swem nie en hy voel ook nog nie reg vir die hiernamaals nie, sy longe het al begin watertrek en hy is meer onder die water as daarbo. Die TV is intussen onder. "Terwyl ek so baie onder is kan ek gerus die visse uitcheck", dink hy en duik dieper. Diep onder maak hy sy oë oop en maak oogkontak met `n uitgeruste krokkedil wat dun voel. Die krokkedil maak `n paar vinnige berekeninge en kom tot die slotsom dat Zile hom sal kan vul. Zile het tot dieselfde slotsom gekom, dit is dat hy die krokkedil kan vul, hy wil nie. Beide partye maak nou vinnig aanstaltes om sy onderskeie wens te vervul, die krokkedil val aan en Zile val terug. Die krokkedil maak sy wreedaardige groot bek oop en stel sy troefkaarte, naamlik sy tande ten toon. Zile is opmerksaam en merk dit op. Die aanblik van die rye indrukwekkende enamel in die bek van die krokkedil begeester hom so dat hy skoon van knyp vergeet, nou trek hy sy troewe en los sewe verskillende kleure drukpatrone in die water, nie een is ewe dik nie maar almal is dunner as paraffien. Dit red sy lewe. Die lading verteerde mopaniewurms in die water laat water troebel en laat die krokkedil belangstelling verloor en byna ook sy bewussyn. Dan maak hy sy bek toe en maak `n atletiese onttrekking. Dit red sy lewe. Zile het net-net die kant gehaal wat veral tedanke aan die feit was dat hy tydig die ekstra gewig afgeskud het van die skrik. Hy het nie gras onder sy voete laat groei voor hy die tog huistoe aanpak nie. Die lug is betrokke en daar is geen teken dat die son ooit weer sal skyn nie. "Dit smaak my ek`t geemmigreer", dink hy terwyl hy knibbel aan `n halfversuipte mopaniewurm. "Dit smaak nie lekker nie!". Hy kyk vir oulaas noord en beweeg dan suid. Hy wil nog voor die dag om is `n groot spasie tussen hom en noord uitpak. Hy weet daar is sowat ses weke te voet van pyn en lyding voor hy weer tuis is, maar hy gee nie om nie, hy wil terug. Hy raak skoon nostalgies as hy aan sy beste vyand, naamlik Mandiebel, dink. Wat ontstellend is, is juis die feit dat hy na Mandiebel verlang aangesien hy en Mandiebel mekaar in die verlede taamlik verniel het. Hulle kon nog nooit met mekaar oor die weg kom nie maar kon ook nie sonder mekaar klaarkom nie. Onwillekeurig vryf hy oor die litteken op sy voorkop waar Mandiebel hom met sy kettie geklobber het tydens `n onderonsie, ook vat hy aan sy sitvlak waar hy met `n sosatiestok gesteek is. Dan is daar ook nog die tandemerke aan sy bo-arm en binneboud. Hy raak skoon groen om die kiewe as hy dink hoeveel keer Mandiebel hom met die knie in die knolle geloop het. Hy stop `n oomblik en voel of alles nog pluis is- dit is en hy slaak `n sug van verligting. Hy voel baie wrokkerig as hy dink hoeveel keer Mandiebel hom op sy jis gegee het. Hoe meer hy daaraan dink hoe wraaksugtiger voel hy- as hy hom ooit weer in die hande kry sal hy hom behoorlik uitsort. "Ek gaan hom behoorlik uitsort as ek hom ooit weer in die hande kry", dink hy meedoeënloos. Zile is skaars twee dae oppad of sy soveelste veltie trek hom plat. Ingedagte voel hy agter hom vir `n afveër, hy vat raak en vee homself met `n blasende pofadder af, dis miskien meer `n kwessie van saggies droogklad, maar hoe dit ook al sy, hy is onbewus daarvan dat die pofadder nou `n poefadder is. Toe hy opstaan voel hy baie beter en dus worry hy nie oor hoe die pofadder voel nie. Zile is nou alreeds `n week op pad en begin baie dors raak, honger ok, van al die velties. Hy is baie bly dat hy oopbek in die mik van daai huilboerboonboom geslaap het want as dit nie daarvoor was nie dan het hy sweerlik al gevrek van die dors. Die terrein is nou heelwat droër as waaraan hy gewoond geraak het gedurende sy vakansie. Die enigste oop water is die lugspieëlings wat hy op die vlaktes raakloop. Voordat hy aan hulle gewoond geraak het, het hy op hulle afgepyl en sy lippe gebrand op die warm klippe en sy longe vol sand geslurp. Daarna het hy in `n hoesbui verval en sand gehoes sodat dit soos `n stofstorm lyk. Omdat hy die afgelope week nog nie nat, maar net droog oor sy lippe gehad het was dit ook nog nie weer nodig om homself af te vee nie en hy besluit om die pofadder te laat gaan. Hy knoop die slang los en laat hom seil. Hy skud al die slangvelle uit sy kitbag en verwonder hom daaraan dat een slang so baie keer kan vervel. Sy boude het intussen kans gekry om mooi te herstel van die kringvuur, Zile wonder of hy al volkome herstel het en besluit dat dit tyd geword het om iets te ete te kry dan behoort hy spoedig te weet tot welke mate hy op die pad van algehele herstel is. `n Truksvyboom langs die voetpad trek sy aandag, hy val daarop aan en eet homself knuppeldik. Hy het geëet dat die sop van sy mondhoeke afloop en die truksvydorings soos hare op sy gebrande twee lippe sit. Hy het hoog tussen die takke, wydsbeen oor `n blad gesit terwyl hy eet en sommer direk van die blad af geëet het, hy het vinniger geëet as wat hy kon kou. Was dit nou nie vir al die dorings en die skille nie, het hy lekker geëet, dink hy toe hy weer op terra firma is. Hy voel nou weer versadig en verkwik asook vol en dik, verder voel hy maar met sy hande en origens maar so-so. Opgewek slinger hy aan met die slingerpad en bewonder die natuurskoon, hy stop net so af en toe om sy balans te herwin. Wat `n lieflike agtermiddag is dit nie!. Die lug is wolkloos en die wind is stil, `n groot swerm sprinkaanvoëls draai in `n tregterformasie op in `n warm lugstroom die hemelruim in, die boonste voëls is net spikkels aan die hemelruim. Hy merk `n interessante groepie bome voor hom op en verwonder hom daaraan voordat hy verder slinger. Hy hou hom voorts besig deur die turksvydorings uit sy lippe te trek en ook om strooi te praat met die plante langs die pad. `n Paar aggressiewe groeiers het voordeel getrek uit sy geselsie met hulle en het hom probeer betrek maar hy het ontsnap. Die son begin water trek en hy besluit om `n ou kennis van hom op te soek, dan kan hy weer `n slag bad en skeer en gewoond raak aan die beskawing, hy sal ook nie omgee om weer `n slag in `n regte bed te slaap nie. Hy loop nog so lekker en fantaseer toe sy maag begin grom, brul, suig, appelleer en pomp, nog `n keer en toe weer `n keer. Die gebrul maak hom bang, hy poep eenkeer hard maar nie te hard nie en toe laat hy spaander. Hy slaan dekking agter `n laning wegkruipertjie-bome. Hulle hou hom vir die gek maar hy kom dit nie agter nie. Hy kruip so deeglik weg tussen die bome dat hy verdwaal. Intussen het sy maag nou genoeg gehad, oorgegee en laat los. Sy knypspier het gehou so wat dit kon maar sy binneligaamdruk het sy knypspier se vermoë om te knyp te bowe gegaan en hy kon nie meer alles binnehou nie. Die slag wat toe volg was fataal, vyf tarentale gedood, vlamgerooster. Hulle het tussen die wegkruipertjiebome kom wegkruip vir die aand toe die slag hulle tref, hulle sal nie weer nie. Zile voel aan sy bas, dis ernstig beseer van al die truksvypitte en dorings. Hy sal maar weer die belt stywer moet trek en nul-per-mond moet toepas. Tussen die bome kry hy twee geblindoekte bakoorbandiete wat aanmekaar geboei is. "Zile", stel hy homself voor. "Tikkel", sê die een en "Tokkel", stel die ander een homself voor. "Ons voel f...ôl", sê hulle gelyk, terwyl hulle in die duister staar. "Dis nie veel nie" sê Zile en dan vervolg hy: "ek is verdwaal. Ek is deur die wegkruipertjie bome geflous en nou het ek myself verlê". Hy beduie hulle dat hy oppad suid is en vertel hulle van sy wedervaringe tydens sy vakansie in Botswana. Tikkel en Tokkel luister onbelangstellend, gaap gelyk en raak luidrugtig aan die slaap. Zile kom dit nie agter nie en babbel opgewonde verder en verder. Hy het lank opgewonde verder en verder gebabbel voordat hy kêns gekekkel en verdwaald, hard aan die slaap geval het. Zile het baie lekker geslaap gedurende die vooraand maar so teen vroeg-oggend het `n effense onrustigheid hom begin pla. Eers het hy gedink dis omdat hy so hard aan die slaap geval het en later het hy gedink dis omdat hy in sy slaap`n ewe verdwaalde krimpvark platgelê het, maar nadat hy die penne uit sy sitvlak getrek het, het die onrustigheid hom bly pla, dit was ook nie truksvydorings in sy sy sitvlak nie want dit pla hom al van die middag af. Hy het oopoog in die donker bly staar en toe dit begin lig word, het die onrustigheid plek gemaak vir `n amperse afwagting, soos wanneer mens wag dat iets vreesliks met jou moet gebeur. Zile staar boontoe en wonder wat hom pla toe hy in die sag brekende lig iets dofweg uitmaak wat soos `n poepol lyk. "Ek wil nie hoes, poep, skinder of paniek saai nie maar dit lyk mos vir my soos `n poepol!", dink hy. Dit lyk vir hom kompleet soos `n knypspier wat op die punt is om te laat los, byna soos `n damwal wat wil breek. Zile staar na hierdie fenomeen in die wegkruipertjieboom bokant hom en hy voel dat hy op die punt is om`n antwoord op hierdie tergende verskynsel te kry. Hy was reg. Dit wat hy tussen die takke gesien het was die onderkant van `n baie dikgevrete koekeloeriekraanvoël wat op die punt was om `n opelyf te ervaar. Zile het skielik besef wat hom gaan tref, hy wou nog sê, "`n Sent vir jou gedagtes!', maar helaas, toe was dit reeds te laat! Wat toe gevolg het was nie mooi nie. Die het teen die spoed van wit lig op hulle afgebondel en hulle betrap net daar waar hulle gelê het. Zile was die gelukkige een, hy het kans gekry om sy mond te sluit. Die twee geblinddoekte bakoor bandiete was nie so gelukkig nie. Toe die lappoo hulle getref het, het hulle nog heerlik, oopbek, gelê en snork. Hulle het skaars kans gehad om te sluk, toe die res van die swerm die leier volg met hul vroeëmôre lappoo. Zile en sy nuwe reisgenote het hulleself uit die lappoo gehelp. Dit was `n lang en moeisame werk, maar iemand moes dit doen!. Toe het hulle in die rivier gaan bad, dit het so gestink dat selfs die varswatermossels stroomop koers gekies het, hulle het nie eens hulle skulpe saamgeneem nie. Nadat hulle klaar gewas het, het hulle koers gekies na Mandiebel se vriend, Palooka van Palooka se Pandjieswinkel. Palooka was baie bly om hom weer te sien en het na sy welstand verneem asook na die prys van tweedehandse karosse, setpille en boomgom. Op sy beurt het Zile hom verveel met te veel detail en hy het vir Palooka vertel van dit wat die koekeloeries hulle aangedoen het. Palooka het lekker gelag en hom mee gedeel dat vandag Nasionalekoekeloeriekraanvoêlopelyfdag is. Dit is die koekeloeries se gewoonte om hulle nasionaledag teen dagbreek te vier deur die dag met gesamentlike toelgang te begroet. Palooka vir hom iets teen verbale diaree gegee en hulle daarna aan sy vrou, Pandora voorgestel asook aan Palookie, sy dogter. Zile het uiteindelik weer na drie jaar kans gekry om te bad, te skeer en in `n spieël te kyk. Hy het lelik vir homself geskrik toe hy in die spieël kyk want hy het lanklaas vir homself geskrik. "Dis verskriklik!", sê hy onwillekeurig hardop. Zile-hulle het weggelê aan Pandora se kos, heerlike kerrieafval met aartappeltjies, rys met `n lang afvalsous gevolg deur spare-ribs en dan `n paar snye tuisgebakte brood om die bord mee skoon te lek. Gestopte springbokboud met `n kruie en rooiwynsous, beestong en bobotie, boerewors stywepap en Kentakkie, is alles goed wat Zile en sy maters daar ingestop het. Zile-hulle het die hele tyd met die hande geëet sodat hulle kan voel wanneer hulle vol is. "Ek is versadig en verkwik asook vol en dik!", verklaar hy na twee dae plegtig en vryf met sy hande oor sy dankbare, boep-geëete pens. Hy meet sy pensdruk; "Drie bar!" lees hy die boeppensmeter. (Die Bandiete was so dankbaar om self hulle ete te kon verteer want met hulle vorige ete was dit hulle nie so gelukkig nie!.) Hulle het Palookie se geselskap geniet en Zile het verleë gevoel oor die gehawende toestand waarin sy klere was, dit was veral sy deurtrekker wat deur die hond verskeur is wat gesukkel het om al sy opstandige ledemate toe te hou. Zile het altyd seker gemaak dat hy langs Palookie sit en nie voor haar nie want hy was bang dat die ryp puisie op haar voorkop dalk kan afgaan. Die Bandiete het nie omgegee waar hulle sit nie want hulle sig was beperk, baie beperk. Hy wat Zile is, was amper doodseker dat hulle in elk geval nie veel sou omgegee het waar hulle sit as hulle wel van die ryp puisie bewus was nie. "Sy prikkel my..... tenspyte van die puisie en moesies op haar bolip waarop daar bossies hare staan en feit dat sy blykbaar `n langtermyn, miskien selfs baie langtermyn voorliefde het vir haar ma se kookwerk!", het Zile gedink. Hy reken dat as sy vir hom mooi is hy vinnig by die huis moet uitkom want hy is besig om bossies of selfs koekoes te raak. Hy het swaar afskeid geneem en voordat hy weer die pad gevat het, het hy eers die blinddoeke van die bakoorbandiete afgehaal en toe het hy met `n lied in die hart en `n "La ta tie ra ta!" oor sy lippe, die laaste skof aangepak.

Stuur kommentaar na zile@webshot.co.za Kopiereg: FC du Toit